-- die ontstaan van veilige
chirurgie
Vandag se operasieteaters is ligjare verwyder van die churgiese dienste van die gryse verlede. Toe is waarskynlik selfs geglo dat bose geeste uit die brein bevry kon word deur 'n gat in die skedel te boor -- om geestesprobleme of siektes soos migraine en epilepsie te genees…
_______________________________________________________________________________________
OFSKOON die oorspronge van die geneeskunde
vir ons in die newels van die verlede verdwyn, dui argeologiese getuienis
daarop dat die mense van die Steentyd bekend was met genesende kruie en ander plante.
Hulle kon ook gebreekte beendere spalk.
En in die antieke Egipte en Mesopotamië is selfs
ingewikkelde geneeskundige behandelings toegepas, wat met godsdiens en towery
verweef was. Teen 2000 vC het die Egiptiese geneeskunde drie hoofvertakkinge
gehad: geneeshere het medisyne, salwe en dranke gebruik; chirurge het beserings
en die liggaamsoppervlak behandel, maar selde interne organe; en
towenaar-priesters was gemoeid met bose geeste en die bonatuurlike.
Sekere oud-Egiptiese dokumente beskryf medisyne wat
vir bepaalde siektes gebruik is, gemaak van plante soos bone, preie, vye en
dadels, metale soos koper en antimoon, en diereprodukte wat wissel van
seekoeivet tot beesmis. Sover bekend was die eerste geneesheer 'n Egiptenaar,
Imhotep (2686--c. 2613 vC).
In Mesopotamië het die Sumeriërs, Babiloniërs en Assiriërs om die beurt hul
geneeskunde ontwikkel. Hulle het chirurgie toegepas, wonde gewas en verbind, en
honderde geneesmiddels van pruimedante tot die mis van akkedisse gebruik. Soos
in Egipte is bepaalde geneesmiddels met sekere siektes in verband gebring en is
die geneeskunde met dreunsange en towerspreuke verbind.
• BAIE min
chirurgiese gereedskap van die antieke Egipte en Mesopotamië het behoue gebly,
hoewel daar so vroeg as 3000 vC reeds messe, tange, sondeerstifte en
brandysters in klip uitgebeeld is. In Babilonië het geneeshere waarskynlik
siste aan die ooglede verwyder.
In Egiptiese geskrifte is daar beskrywings van
toestande waar chirurgie nodig is, soos die besnydenis, die uitsny van swere en
siste, en die oopsteek van pitswere, hoewel inwendige chirurgie nie algemeen
beoefen is nie. Bepaalde tipes messe kon gebruik gewees het om inwendige organe
vir mummifisering te verwyder.
In behoue geblewe kopbene kry ons die onweerlegbare
getuienis van trepanasie of skedelboring, die antieke praktyk van die boor van
gate deur skedels. Die doel kon gewees het om bose geeste of demone uit die
brein of verstand te bevry -- geeste wat, só is geglo, geestesprobleme of
siektes soos migraine en epilepsie veroorsaak het. In Europa is skedelboring
tot in die sestiende eeu voortgesit. Die praktyk is ook in Noord-Afrika, dele
van Asië, Nieu-Seeland, sekere eilande in die Stille Oseaan en Suid-Amerika
beoefen.
Van verskeie skedelboortoestelle was die boog en boor
een van die algemeenste. Die boog is van veerkragtige hout gemaak met 'n
leerriem as die snaar. Die riem is dan verskeie kere om 'n boor gedraai. Die
persoon wat die boordery gedoen het, het die punt van die boor op die kop van
die pasiënt staan gemaak, die ander punt van die boor stil gehou en die
boog-en-riem soos 'n saag heen en weer beweeg sodat die tollende boor om die
beurt links om en regs om in die skedelbeen ingedring het.
Skedelbore was van gladde hout, met punte wat van 'n
baie harde stof gemaak is, sodat daar so netjies moontlik in die skedel ingesny
kon word. Die oudste behoue geblewe skedels met trepanasie-gate uit die
Steentyd is sowat 20 000 jaar oud.
Sekere gate is nie met 'n boor gemaak nie, maar met
'n skerp vuursteen-skraper of -mes, wat 'n ronde of reghoekige keep gemaak het
wat ál dieper geraak het totdat dit reg deur die been gedring het.
In die antieke Peru het mense messe van brons of
obsidiaan, 'n swart glasige gesteente, gebruik. Hulle het partykeer die wond
met 'n skulp, 'n kalbas of selfs 'n stuk silwer of goud bedek.
In Europa kon die stukkie been wat met 'n mes
uitgesny is aan 'n halssnoer gedra word as 'n gelukbringer om die bose weg te
hou. Trepanasie word vandag steeds beoefen -- vir breinchirurgie in die moderne
operasieteater met presisie-bore en -sae wat met elektrisiteit werk.
'n Mediese verhandeling genaamd ''As 'n man hoes...''
kom uit Nineve en dateer uit omstreeks 700 vC. Die verhandeling beskryf etlike
maagongesteldhede en beveel verskeie rate aan. Gesondmaking is deur priesters
beoefen wat hul vak uit duisende beskrewe kleitafels in die stad se biblioteek
van Ashurbanipal geleer het, wat na die Assiriese heerser (668 -- 627 vC)
genoem is.
• KONING HAMMURABI,
heerser van Babilonië tussen 1792 en 1750 vC, het 'n stel wette die lig laat
sien wat die Kode genoem is. Dié het op 'n klipblad behoue gebly. Sewentien
wette het te doen gehad met die geneeskunde, waaronder die beloning of straf
van geneeshere na gelang van die resultate van hul behandelings. 'n Geneesheer
wat '' 'n oogsweer van 'n edelman oopgemaak en die verlies van die oog
veroorsaak het'' se hand is byvoorbeeld afgekap.
• VIR 'n
lang tyd was baie pasiënte op wie geopereer is wawyd wakker tydens hul
operasies. Hulle het gekrul van die pyn terwyl die snydokter -- wat nie sy
hande gewas het nie -- probeer het om sy snye te maak en alles af te handel
voordat die pasiënte weens bloedverlies sterf. Sterftes weens infeksie in die
wonde was ook algemeen.
Dit was nie voor die negentiende eeu dat veilige
chirurgie begin ontwikkel het nie. Die Brit Joseph Lister (1827 -- 1912) het
met die gebruik van ontsmettingsmiddels begin, wat infeksie gekeer het deur
kieme in die wond te dood, en narkose is ontwikkel, waardeur die pasiënt van
pyn bevry is en die chirurg meer tyd gekry het om te opereer.
Dit was in 1865, ná die Fransman Louis Pasteur se werk oor kieme, dat
Lister ontsmettingsmiddels begin aanwend het -- chemikalieë om kieme in en om
wonde dood te maak. Teen 1870 het hy 'n antiseptiese karbolsuurspuit ontwikkel
om kieme in die lug te dood. Baie dokters was gekant teen Lister se idees --
party het steeds soos die ou Griek Galenus geglo dat etter ''goedaardig'' is:
'n septiese wond sou toon dat 'n ongewenste vog besig was om uit die liggaam
uit te kom. Maar teenstand het vervaag nadat Lister met welslae 'n abses vir
koningin Victoria oopgesteek het. Danksy ontsmetting het die persentasie
sterftes in Lister se spreekkamer binne twee jaar van sowat 50% tot 5% gedaal.
Die ontsmettingsmiddels wat Lister begin gebruik het,
het -- só is al gesê -- ''meer lewens gered as wat al die oorloë in die
geskiedenis geëis het''. Hy het ook ander praktyke ontwikkel wat vandag nog
gebruik word, soos die aanwending van katderm om bloedvate af te bind.
Wat narkose aanbetref: vroeg in die negentiende eeu
reeds het mense op ''laggas-partytjies'' en ''eter-partytjies'' bedwelm geraak.
Albei stowwe is deur vertoners op hul gehoor gebruik, met vermaaklike gevolge.
Chirurgiese verdowing het hieruit ontstaan.
'n Amerikaanse tandarts, Horace Wells (1815 -- 1848),
het in 1844--1845 die bogenoemde laggas as narkosemiddel gebruik. Daarna het
Thomas Morton (1819--1868), wat by Harvard gewerk het, eter beproef, wat 'n
langer werking het. Hy het in Oktober 1846 by die algemene hospitaal van
Massachusetts 'n pasiënt verdoof om 'n gewas aan die nek te verwyder.
Hiermee het die moderne tydvak van narkose begin.
Binne maande is verskeie gasse en inasemingstoestelle regoor Noord-Amerika en
Europa gebruik om pasiënte tydens chirurgie te laat slaap.
Eter was baie beter as niks, maar was onvoorspelbaar
met onaangename gevolge. In Januarie 1847 het James Simpson (1811--1870) van
Edinburgh chloroform-gas gebruik om geboortepyn te verlig. In November het hy
dit vir algemene chirurgie beproef. Binne weke het dit eter in Europa vervang,
met nuwe inasemings- en maskerontwerpe wat beheerde hoeveelhede kon verskaf.
As 'n mens negentiende-eeuse afbeeldings van
operasies met chirurgiese foto's van die twintigste eeu en vandag vergelyk, is
dit duidelik hoe toestande verander het. Een negentiende-eeuse gravure toon
byvoorbeeld 'n pasiënt onder verdowing, wat met 'n masker oor sy gesig vir
chirurgie gereed gemaak word. 'n Gehoor van studente en waarnemers kyk toe in
wat letterlik 'n ''operasieteater'' is. Die chirurge en assistente, almal
manlik, dra skoon klere, veral om deftig te lyk; die toerusting op die tafel is
nie gesteriliseer nie.
Maar reeds teen 1900 was dinge anders. Party chirurge
en personeel het wit klere gedra om vuiligheid uit te wys; instrumente is
gesteriliseer en bedek; die teater kon maklik met ontsmettingsmiddels
skoongemaak word. En, wat meer sê, verpleegsters het 'n integrerende deel van
die span geword.
_______________________________________________________________________________________
Terug na inhoudsblad -- klik
hier
_______________________________________________________________________________________
Ons Wonderlike Wêreld op CD,
2004 - Uit Huisgenoot se Jongspan